In ons jaarkalender word daar voorsiening gemaak vir verskeie hoogtepunte gedurende die jaar. Kuier gerus saam met ons deur die aangehegte skakels te gebruik.
Die broederkring in die Suide is daargestel in die eerste plek om die samesyn tussen die gemeenteleiers in die suidelike deel van ons assosiase te versterk. Ons kom dus een keer ‘n jaar vir drie dae bymekaar op ‘n sentrale punt soos byvoorbeeld George of Oudtshoorn. In die tweede plek is dit ons oogmerk in die saamstel van ‘n program om aktuele sake aan te spreek. Ons moedig mekaar aan om sterk te staan in die werk van die Here, maar ons ruil ook gedagtes uit oor hoe ons meer effektief kan wees in die praktyk van ons bediening. Dis ‘n geleentheid om nie mis te loop nie. Bespreek gerus jou plek by volgende jaar se byeenkoms. DV. Kontak besonderhede: die algemene kantoor.
Dierbare vriende.
Die broederkring in die Suide het hierdie jaar met baie stampe en stote gerealiseer. Ons het elke jaar verskeie uitdagings ten opsigte van die tyd wanneer hierdie byeenkoms plaasvind. Aan die begin van die jaar is daar net soveel ander verantwoordelikhede waarby die gemeentes se leiers betrokke is. Hierdie jaar moes twee van ons sprekers onttrek en op baie kort kennisgewing moes ons alternatiewe reëlings tref. Nietemin het die broederkring voort gegaan en kan ek met baie vrymoedigheid byvoeg dat ons ‘n heerlike tyd gehad het. Ek sien altyd baie daarna uit om my vriende weer te sien.
Hierdie jaar het ons, as gevolg van ‘n “venue”problem in Oudshoorn bymekaar gekom. Ons was aanvanklik bietjie besorgd, maar die plek het uitgedraai om baie aangenaam te wees en het ook die lieflikste ontbyt bedien wat ek al ooit geëet het. Vir aandete het ons koepons (soos in die ou dae) ter waarde van R110 ontvang om in die dorp by ‘n restaurant te gaan eet. Die lys van eetplekke was heeltemal billik en as jou keuse goed was, het jy sommer heerlik trommeldik huis toe gegaan!!!
Ons program was baie vol, omdat ons baie wou sê. Die tema van die byeenkoms was “Kerkgroei”, wat sekerlik ‘n paar wenkboue laat lig het. Maar soos ek in my inleidende aanbieding gesê het, die tema kon net sowel “Gemeente gesondheid” gewees het.
Ons weet dat God werk, Hy het nog altyd gewerk en Hy werk vandag nogsteeds. Ons weet ook dat Sy begeerte is dat niemand verlore moet gaan nie en dat almal gered moet word.
1Ti 2:3 Want dit is goed en aangenaam voor God, ons Verlosser,
1Ti 2:4 wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom.
1Ti 2:5 Want daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus,
1Ti 2:6 wat Homself gegee het as ‘n losprys vir almal, as die getuienis op die regte tyd,
Omdat ons dan geen fout by die Here kan vind nie, was ons genoodsaak om na onsself te kyk. En dit was die invalshoek van hierdie broederkring. Ons het ons eie arbeid in die Here onder die vergrootglas geplaas. Ons het weer van naderby gaan kyk na die Here se opdrag aan ons en hoedat ons dit op ‘n praktiese wyse kan uitvoer.
Ons het gekyk na hoe ons deel kan word van dit wat die Here klaar besig is om te doen. En dit was opwindend!!
Daar is ook ‘n groot behoefte uitgespreek onder die manne dat ons in die vervolg ook spesifiek ekstra tyd in die program sal inwerk vir samesyn. Tyd om net as familie in Christus mekaar meer intiem te kan leer ken. Ek sien reeds uit na volgende jaar se broederkring. DV.
Mag ek net laastens weer bevestig. Die broederkring is oop vir almal. Dit sal lekker wees as ons ook weer van ons broeders in die Noorde daar kan onthaal.
Die engelse mense sê mos: “Watch this space!!”
Baie vrede.
Tian