In ons jaarkalender word daar voorsiening gemaak vir verskeie hoogtepunte gedurende die jaar. Kuier gerus saam met ons deur die aangehegte skakels te gebruik.
Oudergewoonte het ons hierdie jaar ons jaarlikse Predikante konferensie van die 5-8 ste in die Oktober vakansie gehou met Mnr. Josef Coetzee as spreker en ons tema oor Baptisme. Die sessie was ‘n gebeurlikheid wat ons denke baie uitgedaag het.
‘n Groep kampgangers het dan ook die geleentheid gebruik om so bietjie dieper in die geskiedenis van Baptisme te gaan ronddelf, deur die Plaas waar J.D Odendaal I begrawe is, te besoek. Op die plaas is daar die begraafplaas waar JD Odendaal en Sy 4 vroue begrawe is. En dan net vir die van u wat hierdie berig lees, wil ons net duidelik maak dat JD Odendaal nie tegelykertyd met al 4 vroue getroud was nie. Daar het ons ook die murasie van die ou plaas woning asook die oorblyfsel van ‘n ou ossewa besigtig. JD Odendaal is dan ook die eerste Suid Afrikaner wat deur H Gutsche, ‘n Baptis uit Duitsland gedoop is. Sien die volgende skakel om meer hieroor te lees.
http://www.abk.co.za/Portals/0/MeerOorOns/So_het_God_ons_skredes_gelei.pdf
Die samesyn en onderlinge saamkuier is altyd ‘n hoogtepunt, maar hierdie jaar het ons ’n rekord 54 kampgangers gehad. Wat ‘n wonderlike geleentheid was dit dan nie. Ons het ook eerstelinge (eerste keer by die Predikante konferensie) by die kamp sowel as dagbesoekers gehad.
Iets wat ons dan natuurlik altyd as hoogtepunt beleef, is die bederf met al die eetgoed, van die Koffie, tee, beskuitjies tot die konings maaltye waaraan almal van ons al te lekker gesmul het. Rondom die tafels is daar nou gekuier dat die biesies bewe van diep teologiese gesprekke tot lekker ligte lagwekkende gesels. Daar was waarlik iets vir alles en self vir die kinders was daar ‘n heerlike tyd van speel en kindwees, veral die twee keer wat die kinders by die spruit onder toesig van Di. Pieter Gouws en Ivor Jefferies, mekaar heerlik met klei en modder besmeer het. Dit was duidelik iets waarvan hulle baie gehou het, want ons het dikwels gehoor hoe hulle smeek om weer te gaan.
Dan gebeur dit soos elke jaar dat Donderdag oggend aanbreek en dit tyd is om op te pak, te groet en huis toe te gaan. Dan kyk ons terug en dank ons die Here vir ‘n wonderlike geleentheid soos hierdie waar ons kan rus en terug gaan huistoe om weer die tuig in die bediening op te neem. Al die Lof en eer aan ons Heer en Meester Jesus Christus wat ons ook in geleenthede soos hierdie tot eenheid in Sy liggaam roep.
Groete
Ds. Jaque Hattingh- Kamp organiseerder Witrivier Baptiste Kerk